Ek hoor die afgelope tyd al meer van die mense wat selfmoord pleeg of dink aan selfmoord. Die 'slim' ouens noem dit deesdae 'selfdood'.
Ja nes jy wil ou grote.
Tog dink ek die sogenaamde geestelikes en professionele ouens is nie die regtes om te help nie. Hulle kan so 'n kwart doen. Die res is vir ons gewone mense. As ons omgee vir mekaar en bietjie meer laste dra en stilstaan om regtig te luister en tyd maak. Dan word jy die tool wat gebruik kan word om iemand weer sin in die lewe te gee.
Ek het byna 15 jaar my in selfmoord 'berading' bevind. Dis een van die moeilikste goed wat mens kan hanteer. Dis negatief. Donker. Verkeerd verstaan deur die meeste en word altyd in negatiewe lig gestel.
Vandag voel ek net lus om die stuk te plaas wat ek vroeër jare geskryf het as uittreksel uit my selmoord dagboek. Elke geval wat ek aandui daar, was werklike mense en ek onthou hulle nog goed.
Die belangrike is dat die hele dagboek en skryf van beplanning my op 'n omdraaipunt gebring het. Van met 'n '38"Special' wat ek teen my kop gedruk het in Nov 1989, tot lank daarna, is die enigste ding wat sin maak. Beteken vir iemand iets.
Lees maar gerus. Dis lank en morbied. Maar soos ek vir elke mens wat ek bygestaan het gesê het, "bel my voor jy die sneller trek", wil ek weer my kop uitsteek en hoop daar is mense wat met eerlikheid my sal bystaan om jou te help. Nie ter wille van geld en professie nie. Net om daar te wees.
En soos een man wat my gebel het na hy met 'n gesukkel my nommer gekry het vir my gesê het: As 'n ds met selfmoord kan worstel en dit wen, dan kan ons gewone mense dit ook regkry. Jy het die week my lewe gered vir my vrou en kinders.
Ek sal probeer om die in Engels te vertaal. My dogter het gevra dat ek Engels ook moet doen. Ek laat waai eers met die Afrikaans voor die covid99 dit wegvat.
Sê net voor jy dit doen. Selfmoord is nie normaal nie, maar jy kan wen. Ek voeg die lang stuk by. Sterkte. Die lewe is meer as die som van gemors wat ons en ander mense droogmaak.
GIGA
‘MY’ SELFMOORDDAGBOEK
Dekbrief by *’Selfmoorddagboek’*
Geagte Leser
Deur baie jare en baie mense se worsteling met die lewe/dood vraagstuk en baie wat se lewens in selfmoord geeïndig het, het ek onthou watter aspekte van belang was en dit neergeskryf soos dit hier in saamgestelde vorm is. Ek moes eendag die vraag beantwoord het: 'sal jy ooit selfmoord pleeg ds.?' Dalk het ek te gou 'NEE" geantwoord en kon nie dadelik sê hoekom nie. Hierdie 'dagboek' is nie soseer net persoonlike ervaring nie, maar ook my antwoord wat ek vir myself uitgemaak het. Om alles te skryf, sou baie meer plek opneem en dalk die bedoeling mis. Mag jy die antwoord ook kry soos ek in die Bybelwoord van Filipense 2:9,10,11.
‘MY’ SELFMOORDDAGBOEK
lees die stuk volledig.
Ek het myself belowe om alle aspekte neer te skryf vanaf die dag dat ek besluit om my bestaan te termineer. Hier is dit. Die dag is 1/1/8?, maar dit is relatief net om die verloop van omstandighede te volg.
Wat 'n besluit. Vir maande, dalk jare vreet hierdie gedagte aan my. Wat is alles en waarvoor is alles. Jy leef en leef. Genot en plesier. Hartseer en eensaamheid. Wat is die doel van alles en waarom moet 'n mens dit deurgaan.
Maar die jare en vrae het nou op 'n punt gekom. Nou sal daar 'n einde wees. Klink dit snaaks? Dit is meer as wat die meeste mense kan sê van hul hele lewe. Die meeste verstaan tog nie eens wat met hulle gebeur nie. Hulle beleef elke dag net as 'n verpligting om verby te kom en stel nie eens belang om vas te stel of hulle nuttig was nie. Die waarheid is dat hulle so in vrees leef vir die einde, dat hulle maar hier in die hede rondkarring en maak asof alles vir hulle sin maak.
Moet asb. nie dink ek is 'n ongelowige nie. Ek is streng Calvinsities grootgemaak. Ek het nooit nodig gehad dat my emosies my geestelike lewe beheer soos in baie ander godsdienste en geloofsbewegings nie. Elke ding was beredeneerd en verstaan. Nader aan die Bybel en God kon jy nie kom nie, behalwe as jy BY Hom sou wees... en dit is my strewe... by Hom. Hy is die enigste wat sin gee aan elke belaglike tydelike situasie wat daar bestaan.
Geleerdes en dominees maak hierdie gevoelens af as ongeloof of sonde of die emosionele opsweeppredikers vra of jy bekeer en gedoop is, want iemand wat God ken, kan nie so dink of nutteloos voel nie. Die meeste van die tyd stel hulle antwoorde net hulle onvermoë om probleme aan te spreek, bloot. Vandag het ek die antwoord en die meeste is nie in staat om by so 'n antwoord uit te kom nie. Ek het nou die dag gesien hoe 'n persoon op sy knieë staan en bid en smeek om genade by God se troon.
En toe hy opstaan, het hy niks anders opgetree en niks bygekry nie. Hy het dieselfde snert verkoop as godsdiens en homself gekamoefleer in geestelike taal. Hulle bou grotte om in te bly en maak groot en sterk bomskuilings met hulle redenasies uit die Bybel en oor Jesus. Hulle onsekerheid spreek baie harder as wat hulle dink.
Waarom bestaan daar so baie 'kerke en groepe'? Onsekerheid! Verdeeldheid! Politieke en sosiale voorkeure! En so tussendeur leef ek en ek word gedruk om kant te kies en te glo, maar ek mag nie beleef nie. Here, help my uit die gemors wat ander bou!!!
21/1 Ek begin gewoond raak aan die gedagte van die einde. Maar HOE? Hoe moet 'n mens jouself laat eindig? Die geleerde dominee, of was dit 'n pastoor of priester?, sê dat selfmoord sonde is. Jy gaan hel toe as jy jouself doodmaak. Frieda se man het verlede week homself geskiet. Geweer in die ... nee.. wat 'n bloederige spul. 'n Mens wil nie jou mense so agterlaat nie.... Hoe?
F wonder nou oor sy siel. Die een ou het gesê hel toe. Nou treur sy. Nie oor die dood nie. Nie oor die manier nie. Nee. Oor die oordeel. Hel toe. Ek wonder of daardie 'geestelike' weet waar en wat die hel is. Hy kan nie, want hy was nie daar nie. Maar hy stuur mense daarheen. Daar is nog ander soos hy. Hy veg elke dag teen sy eie vrees om nie hel toe te gaan nie en sy geloof en godsdiens bestaan uit 'n gedurige vrees. Hy glo vurig en sing en klap hande net om uit die hel te bly. Watter Here is dit oom?
Ek het vir F. gesê dat God gelukkig nie ons menslike oordeel gebruik nie. Jy hoef hom nie hel of hemel toe te stuur nie. Los hom net in God se hande. God weet.... Hy maak nie foute nie. Daarvoor het Hy immers sy Seun gestuur. Oor al die foute, ook oordeelsfoute wat die mense maak. Sy is nou rustig.
20/2 Nog 'n warm nag van rondrol en slaaploosheid. Die dokter sê ek moet kalmeer. Stres. 'n Ander woord vir depressie sê die ander ou. Slim dokters hierdie. Hulle weet alles van niks en gee jou antibiotika as hulle onseker is. Die ander een gee my 'n verwysing. Sielkundige. Hy het my opgesom toe ek binnekom en na 'n paar vrae ken hy my asof hy my gemaak het. Identifiseer te veel stres en te veel erns met my werk. 'n Mens wat altyd korrek wil wees en nie wil verloor nie. Nou moet ek leer om te ontspan. Daar is baie tegnieke. Hy het my 'n kasset met musiek gegee en al die raad wat my kop kon inneem. Met die terugry het ek gewonder of ek nie sy werk minder moet maak nie. Hy lieg tog net vir homself en jy kan hom nooit by 'n erkenning uitkry nie.
Ek het gisteraand die musiek geluister en alles deurgegaan. Nou is ek gespanne. Watter gemors. Iets met meditasie te maak. Iets Oosters. Nog meer ontvlugting. Nou lê ek wakker. Die slaap kom soms. My vrou weet nie. Die kinders weet nie. Hulle sien soms net die moeë lyne en dink ek is oorwerk. Wanneer skyn die son dat ek kan opstaan....
27/2 Ek het die sielkundige gebel en gesê hy moet die afspraak skuif, eintlik uitstel. Ek kon nie reguit vir hom sê hy mors my tyd nie. Dis nie goed om mense teen hulle eie onvermoë af te speel nie. Hy weet immers nie van beter nie. Hy het verstaan. Gelukkig.
1/3 Wat 'n maand. Hoekom moet die staat se finansiële jaar hier eindig? Dit maak almal gejaag en niemand weet waar hulle gaan uitkom nie. Ek het nou die dag met 'n mes gesit en speel. Skerp, maklik, maar te veel bloed. Ek onthou daardie een kind, tiener, in die tronk. Hy het sy vleis met 'n yster uit sy arm geskeur. Al wat hy oorgehou het was 'n wond en baie verwyt oor die manier wat hy wou volg. Ek weet hoe en waar om te sny. Nee. Die meeste wat die metode kies, roep eintlik om hulp. Dis nie wat ek wil doen nie.
20/3 Die lewe laat my dink vandag. Dit is nie al die mense wat iewers gekom het in die lewe wat kan wegkruip agter hulle prestasies nie. As jy sin in die lewe soek, is geld, prestasie en titels maar net een kant en dan 'n baie tydelike kant. Die dominee het Sondag gesê dat die sin Jesus is. Ek glo dit. Maar waarom hou hy dan so krampagtig vas aan die lewe? Dis dan juis na meer as die tydelike lewe wat daardie geloof streef. As selfs Paulus gewens het om by sy Here te wees, hoekom mag ek nie? Daar staan: 'om julle onthalwe bly ek...' My onthalwe is vol. Of mag ek nie daaroor besluit nie?
Vanaand drink ek 'n slaappil. Ek wil net my gedagtes stil kry. Daar is genoeg gejaag in die dag.
10/4 Sarel was vanaand laat hier by my. Hy was lelik gedrink. Sy nood lê by die lewe. 'Ek wil myself doodmaak...' Hy het die woorde oor en oor gesê en gevra dat ek hom moes keer. Natuurlik kan jy nie 'n dronk mens keer nie. Drank is een van die duiwels wat jou dood wil hê. Nee, sê die dominee. Net sodra jy dit reg gebruik. Daar gaan nog iemand hel toe op 'n dominee se advies.
Ek praat hom moed in. Probeer hom sin in die lewe verduidelik. Praat en drink koffie, tot sy ouderling hom kom wegvat en ek op my bed lê en huil vir hom en bid. 'n Mens kan nie so sinneloos sterwe nie. Dood moet ook 'n doel hê. Niemand behoort homself uit moedeloosheid of doelloosheid uit die lewe te neem nie.
My vrou wou nie vandag luister na my konkretisering van die dood nie. Dit sal tyd neem om haar subtiel te laat verstaan wat in my gedagtes aangaan en waarom dit gebeur het. Te veel mense 'blaas' hulself om ander agter te laat met verwyte van: waarom het ek nie dit of dat nie. Hulle is seker volop. Die selfmoordenaars wat iemand wou 'kry'. Dit is dom en onnosel. Soos daardie tiener verledeweek. Hy sal sy ma wys. Hy was nie daar om sy ma te wys nie. Ek wys mense dit wat hulle moet sien, nou. Ek dreig hulle nou. Ek argumenteer nou en krap hulle deeglik om aan hierdie kant. Dood is nie 'n oplossing vir probleme met mense nie. Hulle behaal 'n oorwinning oor jou so. Vergeet dit. As my dag kom, sal ek geskik hê met almal.
Dis net die kinders wat pla. Waarheen gaan hulle? Ek dink aan jou S. Moenie toegee nie.
4/5 Vandag het S homself geskiet. Pistool. Ek het gepleit by die Here. Hy het nog 2 ure daarna geleef. Kon hy sy saak regmaak? In weke kon die geestelikes hom nie regkry nie. Hulle spook te veel met hul eie spook. Ek is kwaad, maar kan niks daaraan doen nie. Sy vrou en kinders was deeglik voorberei. Ek dink dit was vir haar 'n verlossing. Hoe 'n mens ookal probeer. 'n Skietery vra dat jy iewers uithak. Geen normale mens kan 'n loop teen sy kop druk en die sneller trek nie. Dis eers na uithak hier bo.
'n Hele week met 3 tot 4 ure slaap. My gedagtes is besig. Met alles. Die mense wat ek mee werk. Die mense wat vir my werk. Die familie wat droogmaak. Die kinders wat kerm vir speelgoed wat te duur is. Hier lê 'n swaar tyd voor vir elke mens in hierdie Afrikanerland. Finansiël. Politiek is 'n nuttelose stryd van sterkeres om sterker te word. Terwyl hulle stry, word ons armer en daar is baie mense wat in die tou staan vir jou werk. 'n Stryd om voortbestaan. Met my uit die weg sal die vrou en kinders nie veel sukkel nie. Ek het reeds seker gemaak dat al die polisse en die pensioen hulle sonder skuld en met 'n ekstra bedrag sal laat. Die goed neem nie selfmoord in ag na 'n bepaalde tydperk nie.
Die nut van die lewe. Elke mens moet sy nut soek en vind en nie wegkruip nie. As jou nut verby is hier, wat dan? Wie is dit wat my verhoed om te besef dat my gebruik verby is? Sê een geleerde: jy mag nie self besluit wanneer jou tyd verby is nie. Hoe weet jy? Jy het dan self besluit oor jou lewe. Om 'n teoloog te word wat met wetenskap die Bybel ondersoek en nie antwoorde kry op die praktiese vrae van gewone mense nie. Dit lyk my 'n mens mag net tot op 'n sekere punt vir jouself besluit. Wie trek die streep? Ook die mens?
21/5 Slaaploosheid en pille. Sou pille dalk werk? Die navorsing dui dat pille nie altyd so effektief is nie. Baie keer gebeur dit dat daar net skade is. Nier, hart en brein. Die laaste ding wat ek wil word is 'n pasiënt in 'n inrigting. In elk geval nie deur my eie toedoen nie. Die dokter het my 'n maand se pille vooruit voorgeskryf. Ek het gesien dat die 30 die ding behoort te doen. Behalwe as iemand jou betyds kry en dan 'n klomp aksies met jou uitvoer en jou as 'n lamme en sieke terugbring. Hulle dink dan dit is 'n guns, want nou kan hulle weer met jou werk dat jou siel ten minste gered sal word. Risiko? Te groot en dan laat jy jou goeie dokter met 'n verwyt dat hy aan so 'n depressiewe pasiënt sulke risikomedisyne gegee het in grootmaat. Wat 'n tragiese lewe. Niemand gee nie en almal vat. En die wat gee, bedoel nie om te gee nie, want hulle gee eindig tog in vat. Ek wonder of dit nie sulke mense is wat hel toe moet gaan nie.
Kan die wat eerlik is nie eerder in ag geneem word wat hul siel aanbetref nie?
1/7 Onophoudelik draai die beplanning. Vandag het ek gevoel dit moet na 'n kant toe. Die metode? Ek het nie genoeg tyd om aan die metode te dink en die finale uit te werk en te beplan nie. Ek wil nie uitstel nie, maar tyd is immers aan my kant. Ek is een van die wat weet wat ek van die lewe wil hê en weet wat om daarmee te doen. Die ander wat sonder 'n môre is, het 'n groter probleem. Dis hulle wat verward en presies moet beplan.
Tog is my dagtaak afgehandel. Soos altyd sê almal: mooi so. Dankie vir jou werk. Jy is onmisbaar. Die beste wat ons nog gehad het. Ek kyk hulle so onvoltooid aan. Hoe onvolledig is die meeste mense se lewens nie. Hulle leef vir produksie, die slaap en die vakansie. Ek was ook so, maar dit hou my nie meer vas nie.
15/8 Watter gemors kan 'n mens nie maak van jou bestaan nie. Die afgelope week baklei ek met almal en is ongeskik en geniepsig. Ek tree so onvoltooid op soos die mense rondom my leef. Dis soos nou dat ek terugtrek en stil word. Sommer stil tot hier diep binne en dan ontdek dat my bestaan ook stil geword het. Nie sonder 'n ideaal nie, maar verby die ideaal. In elk geval verby die tydelike ideaal. Waarom moet 'n mens aangaan as jou tyd verby is. Die merkers op my pad word al duideliker. Hierdie stilte... al skyn ek voor die mense. Wat sal hulle tog sien as hulle die waarheid weet? 'n Verstoteling? Die bederfde brokkie wat altyd sy sin gekry het?
Ek hoor hulle sê dat die mense, veral jonges, in Hilbrow so afspring van die een gebou af. Meeste is jonges wat rebels geword het en nie geweet het hoe om hul gewaande status te hanteer nie en gou deur die wolwe van dwelmverkopers gevind is. Na 'n week of tien in die nag van dwelms, eindig hulle onder. Meesal dood. Die koerante skryf nie meer oor hulle nie en die dwelmhonde beskerm mekaar tot op hoogste vlak. Wie wil leef as jy deur daardie web gevang word. Watter uitkoms is daar? Rehabilitasie? Baie lae sukses. Die beste verdedig daar is aanval. Dalk moet ek 'n eenmanoorlog begin wat die dwelmbase uithaal. Ook die wat deur die wet hulself beskerm. Mense behoort nie deur ander nutteloos gemaak te word en dan misbruik te word nie. Kan die oorblywendes nie in opstand kom teen hierdie misbruik nie?
Dis geen manier om te sterf nie. Waardeloos en doelloos. Soos 'n leë dop wat op die grond val en oopbars en die dwelmbaas skryf 'n klein profyt met 'n glimlag af. Nee. Nie dit nie.
20/9 Ek is moeg. Iets verkeerd? Die dokter skryf 'n vakansie voor. Dalk net die ding wat ek nodig het om te beplan en seker te maak. 'n Winter by die see. Die groot water tot op die horison, maar wreed wanneer hy jou in sy tande kry. Nou beplan ek 'n wintervakansie om my gesin te groet.
30/9 Ma en pa. Julle is al oumense en my dood sal ook julle dood beteken. Hulle sê 'n mens moet verantwoordelik optree te alle tye. Hoeveel weet wat verantwoordelik is? Ek moet my dade kan verantwoord. Nie volgens ander se subjektiewe maatstawwe nie, maar volgens die orde wat jou gemoed bepaal. Hier gee die dominee antwoord: jou EK is nog te groot in jou lewe. Die geestelikes sing saam in die koor van oorgawe. Wie se ek is te groot? Die een wat sy lewe wil beïndig of die een wat sy lewe te alle koste wil laat aangaan? Hoe geleerd en geletterd en hoe geestelik. Onder lê daar die fondasie van die self en uiteindelik besluit jyself ook maar.
Miskien moet ek iets uitwerk wat nie vir my nabymense seer sal wees nie. Iets wat hulle weer sal terugbring op verdedig van die herinnering. Goed. Los dan nou.
22/10 Oom Daan het homself vergas. Ek byt my vingers, want ons moes dit sien. Die alkohol het perd gery. Depressie en dan die dood. Here. Het hy tyd gehad daar in die laaste oomblikke? Hulle sê jy word benoud en kan nie asem kry nie. Dan tree die natuurlike oorlewingsdrang in en jy wil jouself red, maar jy kom agter dat jou lyf nie wil saamwerk nie. Hoe lank sal dit wees wat jou brein nog kan saamwerk net om seker te maak? Die dood is maklik. Dis soos aan die slaap raak. Om by die slaap uit te kom, kan hel wees, veral as jy 'n tree voor die slaap agterkom dat jy nie reg is nie.
Nog 'n metode weg vir my. Dit is 'n vreesmetode. Iemand wat geheel onseker is of hy wil of nie. Iemand wat nie voorberei het nie. Dis net soos pille. 'n Skreeu om hulp. Jy hoop iemand hoor, maar as hy hoor is jy ook teleurgesteld.
7/11 Ek voel ek wil elke nag 'n stukkie skryf. My slaap is nou beperk tot 4 ure per nag, tensy ek 'n slaappil drink. Te veel pille drink ek nie, want die verslawing is reeds jare agter my rug. Beheer. Dis die woord. Miskien weet die liggaam van die lang slaap wat kom en is dit nie so belangrik om aanhoudend te slaap nie. Vannag is een met leë gedagtes. Geen vashouplek nie. Niks is konkreet nie. Dit is asof alles klaar gedoen is. Was my ideale te kort? Te maklik? Of moes dit so wees? Soek en soek in my kop, in die Bybel, in geleerde boeke. Ek wens iemand kon my help. Nie om te bly leef nie, maar om seker te maak of ek finaal reg is.
Onsekerheid is die grootste aanslag teen die lewe. My onsekerheid is net anders. Ander eindig die lewe, omdat hulle onseker is. Ek wil eers seker wees.
8/12 Skok. Oom D se seun Olla het nou ook homself vergas. Hoe blind kan 'n mens nie wees nie. Hy was morbied, doelloos en gebroke. Daarby was sy hele lewe gekenmerk deur een mens wat hom nooit raakgesien het nie. Sy pa. Nou is sy pa weg en wat het hy oor om na te streef? Hy het net een doel gehad en daar was nie iemand om sy oë vir die volgende oop te maak nie. So sterf sy drome saam met hom en kan hy nie eens sy verlange om sy pa tevrede te stel, uitgespreek het nie. Wat sou in sy kop gewees het die laaste oomblik?
Nou kom die nabetragting. 'Die mense sê.' Hy was nie so normaal nie. Sy meisie wou hom nie meer sien nie. Hy kon die gesig van sy dooie pa nie verwerk nie. Elkeen op die pad het iets om te sê, net om die kante so 'n bietjie sagter te maak, want die kante steek skerp na almal wat betrokke was: JY het nie gesien en nie gehelp nie. Skuif nou jou agterlosigheid weg met 'n teenargument.
8/1 Hoe lank nog? Dokter gee weer antibiotika. Die griep pla alweer. Ma sê dis stres wat my weerstand afbreek. Vrou sê dis my gewete omdat ek so swak 'n gesinsman is deesdae. Nou voel ek te flou om aandag te gee. Sou die dood dalk kom sonder my toedoen. Ek hoop....
2/2 Laatsomer. Die natuur maak my voortbestaan weer maklik. Voortbestaan met 'n einde. Elke dag dink ek daaraan. Vandag vind ek vreugde daarin. Selfs die blomme verwelk en gaan dood en nie een van hulle word dof of lusteloos nie. Hulle gebruik die oorblywende tyd met vreugde. Ek ook. Dis net die hoe, wat en wanneer. Die dat is seker.
My beplanning van finansies vorder goed. Een deel skuld is afbetaal. Nou is dit nodig om die laaste afronding te begin. Die huis waar my vrou en kinders in gaan bly, sal hulle keuse moet wees. Ek sal begin met herstelwerk en verfraaing. Verhoging in waarde terwyl ek nog liggamskrag het en tog nie genoeg krag het om te lewe nie.
30/3 Die tyd gaan verby. Ek werk verbete aan die aanbou, mooimaak en afrondings. Thea het gister pille gedrink. Haar man is 'n gemors. Loop rond en rand haar geestelik aan. Sy soek 'n uitweg. Niemand kan help nie. Sy was ver weg, maar een van die risiko gevalle. Sy kon breinskade en nierskade opgedoen het. Sy is nou weer by. Na so 36 uur. Dit lyk asof die breinskade nie sal wees nie, maar wanneer kan nierskade wys?
My humeur ruk weer hand uit. Niks is reg nie en klein dingetjies laat my ontplof. Tog voel ek nie so erg hierbinne nie. Dis na buite onbeheersd. Selfs die kinders is bang as ek so is. Dalk verstaan hulle dit nie mooi nie. Wanneer 'n mens klaar maak om te eindig, is dit noodsaaklik dat jy hulle nie agterlaat as ongeballanseerdes nie. Hulle moet nie soos egskeidingkinders alreeds 'n breekbeeld van die huwelik hê nie. Die lewe gaan oor dood, maar dit moet in perspektief wees.
Ek moet werk aan my kinders se lewensverwagting. Wat verwag jy van die lewe. 80 nuttelose jare of 45 goue jare?
10/5 Watter maniere kan 'n mens jou lewe beëindig? Skiet, pille of iets drink, spring iewers af en vergas. Dan kan jy in die see in loop en versuip of in 'n rivier spring. Of jy kan voor verkeer instap of voor 'n trein inspring. Natuurlik is daar nog die polse sny. Een een oorweeg ek weer die maniere. Ek wil nie seerkry nie. Daar is genoeg pyn die afgelope jare in hierdie liggaam. Ek is ook te nugter om aan die wat agterbly 'n gemors na te laat en die risikos wat die water aanbetref, is te groot. Dalk kry hulle nooit jou liggaam nie. Dalk verdrink jy nie en help iemand jou uit voor jy dood is.
'n Motorongeluk klink nog altyd vir my die mees aanvaarbare. Jaag iewers by 'n berg af. Dit sal deeglike beplanning kos, want daar het al snaakse goed gebeur met ongelukke.
20/6 Die geleerde geestelike sit en praat my moed in wanneer ek hom pols in hierdie rigting. Voel hy aan of is sy gadagtes net hiperaktief met homself besig. 'Jou lewe is nie in jou hande nie.' So? 'Jy moet die Here toelaat om jou lewe te beheer, want Hy bepaal die einde.' Wanneer hy in sy motor klim en teen 120 op die oop pad ry, is sy lewe nie in sy hande nie. God moet net bybly met hulpverlening. Wanneer miljoene hul sigarette opsteek en 'n stadige vorm van selfmoord verkies, dan is hulle lewe veilig in God se hande. Wanneer die wynsuipers hulle lewers verhard met die drankgod, dan is hulle nie in beheer van hul lewens nie, maar God?
Jesus het geweet dat die dood op Hom wag, maar Hy laat toe dat Hy gevange geneem word en aan die kruis gekap word. In wie se hande was sy lewe? Hier trap die teoloë nie klei nie, maar water, veral die nie-gereformeerdes. Jou gevoel sê mos vir jou dat jy nie so oor die Here mag dink nie. Die Bybel word die mees onlogiese boek, want sodra ek begin vrae vra daaroor, dan word ek berispe vir ‘respekte’ en kry ek nie die bedoeling nie.
Jesus was willens en wetens op pad na sy eie dood. Hoe vergeestelik jy dit uit die Bybel uit? Dat Hy nie sy eie hand gebruik het om sy lewe te beëindig nie? Reg. En as ek nou tussen 'n skare oproeriges instap en hulle koggel en hulle sny my keel af. Was dit dan onverantwoordelik? Of is die saak die belangrike? Hierdie stelling regverdig nie selfmoord nie, maar vra die geestelikes en sielkundiges om nie alles so maklik af te maak nie. So 'n indirekte en respekvolle manier van sê dat baie van julle eintlik besig is om gemors droog te maak. Die meeste mense bly stil uit ordentlikheid of is alreeds pil of persoonsafhanklik.
Die feit dat Jesus geweet het dat die dood op Hom wag, is nie 'n groot saak nie. Dit was net soos ek en jy. Hy het net met 'n doel dit gedoen. Ek en jy was sy doel. Daar was geen selfsug nie. As selfmoord uit selfsug kom, dan mag ek nie. Wat baat ander by my dood?
1/8 Die worsteling hou aan. Ek kom nader aan 'n oplossing. Die waarde van my dood. Dit moet lê in die saak waarvoor ek staan. Die kinders sal selfstandig kan aangaan. My vrou is klaar selfstandig. Die res sal kom, want tyd maak gesond. Vandag is ek so diep soos ek nog nooit was nie. Daardie tyd toe die dokter my van pille afhanklik gemaak het jare terug, was nie eens so erg nie. Ek moet nugter wees. Beredeneerd. Selfmoord mag nie 'n ontvluting uit die lewe wees nie. Iemand wat vlug, het geen vaste doelstelling en geen voltooing van sy taak nie. Vlug beteken ook dat jy nie met al die werklikhede rekening hou nie, maar jouself mislei. Vlug beteken dat jy voor jou dood onvoltooid was en net so onvoltooid na jou dood sal wees.
Immers. Die dood van Jesus lê juis hier as suksesverhaal. Sy dood was 'n verhoging en voltooing van 'n taak. Sy dood het lewe gebring. Sy dood was 'n terugkeer na die oorspronklike aard en toestand van die mens. Die mens het gesterf. Jesus het teruggekeer. Ek kan nie nou deur my dood sterf nie. Ek moet ook terugkeer. Nee. Verwerf weer daardie sekerheid deur jou aandag te konsentreer op voltooing van jou taak.
12/9 'n Eensame lewe. So tussen al die mense. Gesels, gesels. Slim hier, slim daar. Binne my woel dit van afkeer en isolasie. Selfs my vrou dring nie werklik deur nie. Vroeër kon ek die dokter se pille die skuld gee, want die meeste van die pille vererger depressie. Nou is daar nie pille nie. Net moegheid en doelloosheid wat voel dat niks oor is nie. Ek weet die einde is in sig. Die manier maak nie meer saak nie. Die vinnigste is die beste. My gedagtes word leeg en die slaap kom....
14/10 My kleintjie het my gekry waar ek met die pistool sit en werk. Wou weet wat dit is. Moet ek verduidelik dat dit 'n selfverdedigingswapen is? Ek verdedig myself teen die wêreld wat nie meer plek vir my het nie? 'Pappa moet nie weggaan nie...' Sou hy aanvoel?
1/12 Ek sal nie weer skryf nie. Die is die einde van die dagboek. Alles is gesê en alles voel so kort en naby en tog so ver en onwerklik. Môre vat ek die buurman se rewolwer en 'n kussing. Bos toe. Die kussing keer die bloed en die klank. Nou voel ek soos al die ander. Diep af. Diep, diep en heeltemal leeg. (Pappa moenie weggaan nie...?)
>>>>>>>>>>>>>>>>>>>>>>>>>>>>>>>>>>>>>>>>>>>>>>>>>>>
Die omkeer.
7/1 Nog 'n nuwe jaar. Kersfees en nuwejaarsdag bring so dikwels 'n drang om te lewe na vore. Sal ek rus vind? Hoeveel gedagtes het beheer van my geneem in die tyd toe ek met my dood worstel? Vandag is die groot vraag verander. Nou vra ek nie meer na die manier van doodgaan nie, maar na die nut. Hoe meer ek daaroor dink, hoe meer wonder ek en ek besef dat selfs die dood nuttig moet wees.
Hoeveel mense sterf nutteloos in die wêreld. Kyk die kinders in Afrika. Kyk die oorloë. Here, dis mos nie reg as ek ook nutteloos uit die lewe moet gaan nie. Waarom pla die kind se verlanges my?
20/1 Ek wil nie meer skryf nie. Ek weet nie meer wat om te skryf nie. Dis asof die sekerheid van so lank terug, nou verdwyn het. Elke dag spoel daar meer en meer rustelose golwe oor my. Die nagte word 'n aanhoudende rondrol tot 'n pil die slaap afdwing. Waarom is ek onseker?
Ek verstaan nou iets van swartgallige depressie. Jy vind selfs in jou nuttigheid geen nut nie. Alles wat jy doen, word 'n swaar las om te dra en daar is geen glimlag in die lewe nie. Dis hierdie tyd wat ek nie wou ken nie. Ek moes verby dit kom, nou sit ek vas. Hier binne maak geen metode saak nie en as iemand of iets nie help nie, sal die einde vinniger kom as wat selfs ek beplan het. Die slaappil neem oor. Vandag is nog nie die einde nie.
25/2 Ek kon weer met Hannie gesels die afgelope week. S is nou al meer as twee jaar dood. Sy is ouer. Moeg? Die kinders het daardie veraf kyk in hul oë. 'n Mens leer lag sonder jou oë as jou pappie selfmoord pleeg. Dit sal nie help om aan hulle te verduidelik nie, wat weet 'n kind van selfmoord? Niks! Al die gevalle wat voorkom wys duidelik na ontvlugting en 'n gebrek aan begrip vir die dood. H sê 'n mens doen dit nie aan jou mense nie. Is dit waar? Is die mense regtig betrokke en gee hulle regtig om? Die skerp vingers sal na 'n week of ses na die begrafnis begin wys dat niemand eintlik omgegee het nie.
Wat soek ek in 'n samelewing wat basies net plek het vir die self? Selfs die liefde wat gegee word, vloei net vryelik as dit 'n voordeel inhou. Behalwe die kinders. Hulle verstaan nog nie die winsmotief en selfsug van die grootmense nie.
12/3 Ek skryf onsamehangend die afgelope tyd. As ek nie belangeloos en rigtingloos is nie, dan is dit agressie. Ek begin die woord 'ek' haat, maar haat is 'n negatief en daar kan geen nut na vore kom nie. Hoe ek nog my werk gedoen kry en die gedagtes ondedruk voor ander mense en my mense, kan ek nie verstaan nie. Dit voel asof daar bloed op my gesig is as ander vir my kyk. Tog sien hulle dit nie en daar is nie 'n manier waarop ek dit kan sê nie. Na die tyd, na die begrafnis, sal hulle ook wonder waar die ding begin het.
20/4 Ek voel wonderlik. Ek kon iemand oortuig om nie selfmoord te pleeg nie. Niel is jonk. Net so by die 20. Sy pa is 'n wynsuiper. Die huis is 'n gemors. Sy ma word gevloek en geslaan. Hy het geen omgee mense nie. Ek het hom egter oortuig dat sy pa dit nie werd is nie. 'n Mens gee nie vir so 'n lae mens jou lewe weg nie. Gee dit eerder vir iemand anders. Soek liefde. Eendag kan jy teruggaan na die pa toe en hom dalk ophelp.
Lê my antwoord dalk hier en wag? Die betekenis van die lewe lê dalk eerder in ander. Waarheen egter as jy nie iemand het nie? Of as jy almal in jou lewe afgesterf het en jou so ontrek het dat jy vereensaam en in elk geval niks beteken nie.
1/5 My liggaam gaan agteruit. Spanning is ook 'n soort kanker. Dit vreet letterlik kolle in jou. Dit verskil net in die bepaling van die einde. Spanning het nie 'n einde nie, tensy jy dit self beëindig.
10/6 Ma het gebel. JC lê in die hospitaal. Poging tot selfmoord en senuwee-ineenstorting. Die depressie wat sy aan ly kry jy nie op die mark nie. Dit word verwek binne jou deur 'n siek samelewing. Die voedingsbron is eensaamheid en die belangeloosheid van jou mense naby jou. Hoe help 'n mens as jy self in die sloot lê. Ek sal maar ry en gaan kyk. 'n Mens sterf nie nutteloos nie.
12/6 Slaapterapie. JC lê en slaap al vir 3 dae. Die dokter mompel iets van rus en ontlading en daarna pille vir spanning, sosiale verkeer en oefening. As ek so na haar staar, dan weet ek dis twak. Geen slaap vat 'n opgehoopte verlede weg nie. Pille absorbeer nie eensaamheid nie. Simptomaties. Verligting. Die pyn is weg, maar die ongemak herinner jou selfs in jou slaap dat jy nie weet waarheen of hoeveel nog nie.
Slaap. As môre aanbreek en die pille is uit jou gestel, dan was daar darem 'n rus wat jy nie kan onthou nie en wat iemand iets ryker gemaak het. Volgende jaar slaap jy weer.
20/6 Ek kon met lus werk aan JC. Sy reageer op belangstelling. Nou het ek 'n kruk geword waarop sy kan leuen. 'Bel my net voordat jy die sneller trek', het ek haar gegroet. 'n Mens kan selfs oor selfmoord ligtelik wees. Sy verstaan. Ek verstaan. Ander.....?
2/8 'n Maand van betrokkenheid by JC. Iets verander in my. Is dit omdat ek gee? Selfs die alleenwees is nie so alleen as jy besef dat jy daar MOET wees vir iemand anders nie. Noem die een geestelike/sielkundige dit 'n 'afhanklike persoonlikheid'. Nog 'n ettiket om die nek. Is ons nie maar almal afhanklik nie? Wie van die 'geleerde' grootkoppe staan soos 'n windpomp alleen? Vergeet dit. Eensaamheid word so dik dat jy dit met 'n mes kan sny. Om betekenisloos te wees, is erger as die dood. Dis immers hoekom ek die volle pad wil loop.... of wou geloop het.
10/9 Teen my gevoel in moet ek begin erken dat die soetheid van die eerste besluit om my lewe te beëindig, nie meer so duidelik smaak nie. Ek dink dat ek sin vind in ander se lewens. Gister het my depressie my weer bloots gery, maar ek het my gedwing om iemand te gaan help wat in nood verkeer. 'n Vrou wat agter gebly het na haar man se selfmoord. 'n Hele uur van hoekoms en selfverwyt. Sy sal oor twee jaar nog die letsels dra. Dit sal nie seer wees nie, maar die merke bly. Ek het haar betrokke gemaak by 'n hulpgroep vir kos aan werkloses.
'Praat tog net sag oor die selfmoord gedeelte', sê die mense in die omgewing. Hulle gewetes pla hulle. Die saggies praat wys op hulle belangeloosheid. Die samelewing het al meer dooie mense op sy gewete as wat ons ooit kan dink.
1/10 Met nuwe gedagtes en werkvelde, is dit duidelik dat my sekerheid oor my dood verdwyn het. Niemand is bly daaroor nie, want niemand het geweet of wou weet nie. Die feit is nie weg nie. Dalk is dit net by die lafaards weg. My besluit verander net. Daardie dag wanneer ek nie van nut kan wees vir 'n ander nie, sal ek weer worstel. Hoekom sal daar so 'n dag aanbreek? As jou ego net nie so hoog klim dat jy weer op jou eie staan nie en as die mense rondom belangrik bly, dan is daardie dag nie naby in hierdie tyd wat ons lewe nie.
Ek bêre vandag my pistool en my gedagtes. Ek huil pynloos die onsekerheid uit my gestel. Ek hoop ek het eendag iemand om mee te praat as ek weer in die put val. Tot dan sal ek maar daar wees vir ander om mee te praat.
Epiloog 1/11/89
By die herinnering van hierdie deel van my lewe, sien ek vandag dat die konkrete beredenering van selfmoord, my in 'n groot mate weerhou het om onmiddelik in 'n ding in te spring. Daarna het die vraag na die sin van die dood of eerder, die behoefte aan sinvol doodgaan, 'n nuwe gedragterigting oopgemaak wat my uiteindelik gebring het by die besef dat ek nie juis alleen op aarde is nie en dat 'n helpende hand aan 'n ander in nood, jou las makliker maak om te dra.
Vandag glo ek dat God dit so bedoel, vir my en vir alle ander mense. Dit is immers Hy wat gesê het: 'dit is nie goed dat die mens alleen is nie. Ek sal vir hom 'n hulp maak wat by hom pas.'
Naskrif van skrywer
Hierdie voorbeelde is ‘n samestelling en nie noodwendig opeenvolgend nie, om te verhoed dat mense geïmpliseer word. Indien iemand homself met iets identifiseer, is dit terloops en nie die bedoeling nie. Die doel hiervan is om ‘n mens in nood te help om nie so sin in die lewe te verloor dat jy jou lewe eindig nie. Vir die wat betrokke was by my vorming sê ek baie dankie. Julle was onmisbaar en selfs al sou julle een verloor het aan die dood, was ook hulle nie nutteloos in die lewe nie.
Ds. D.S.
**************************************************************
NASKRIF VIR DIE WAT MET IEMAND SO SAAMLEEF
Die kritiese gees wat ons tyd openbaar teenoor goed wat die samelewing nie kan hanteer nie, maak dit geweldig moeilik vir iemand wat met die sin van die lewe worstel. Moenie soos die samelewing maak en jougeliefde opsy skuif of ignoreer of kritiseer nie. Gewoonlik is die wat die naaste aan ‘n selfmoordpersoon leef, die een wat die meeste geneig is om die probleem mis te kyk. Dikwels met opset. Onthou dan dat hierdie mens met ‘n groot worsteling besig is. Die worsteling handel gewoonlik oor die nut van alles. Voeg daarby dat ons hier te doen het met ‘n geweldige aanslag van die duiwel teen die lewe wat God gegee het, dan het jougeliefde nie ‘n maklike taak nie.
Staan hom/haar stil by. Wag om te luister en moet nooit dink dat iets onbelangrik is nie. Gee baie geduld en liefde. Hy/sy gee dit weer terug op ‘n ander manier. Staan by met beplanning van lewensfasette wat die lewe ondraaglik maak. Let ook op mediese aspekte. Daar kan chemiese prosesse in die liggaam wees wat vir baie spanning en negatiwiteit verantwoordelik is. Langtermyn pille kan ook ‘n bydrae lewer. Help met ‘n konstruktiewe ontspanning, veral dit wat bekend is en reeds verkies word. ‘n Liggaam sonder oefening, is ‘n goeie resep vir opbou van spanning.
Sorg vir ‘n derde persoon vir bystand. ‘n Uitlaatklep en raadgewer.
Die beste hulp bly egter gebed. Sag en alleen as dit moeilik gaan, maar ook saam met jou geliefde wat swaarkry. Vat die Bybel en begin lees saam. Dit gaan moeilik in die begin, maar hoe verder hoe beter.
NASKRIF VIR DIE WAT AGTER GEBLY HET.
Jy wat ‘n geliefde op hierdie manier verloor het, moet nie in moedeloosheid en selfverwyt verval nie. In die meeste gevalle is die skuld nie aan een persoon of saak toe te skryf nie, maar lê die oorsaak by ‘n sameloop van omstandighede en fisiese faktore.
U moet nou die geliefde wat weg is, vergewe in jou gedagtes en voor God se troon. Moet dit nie teen hom/haar hou nie. Al is dit sonde om moord te pleeg, hang daar die voorbeeld van ‘n geredde moordenaar aan Jesus se regterkant aan die kruis en sterf hy daar en word op grond van God se genade gered. Wanneer iemand van jou selfmoord gepleeg het, weet dan dat die waarheid is dat niemand hom ‘hel toe’ kan veroordeel nie. Daardie oordeel staan NIE in die Bybel nie. Wat wel waar is, is dat hy/sy in God se hande is en ek weet dat God nie foute maak nie. God ken die wat aan Hom behoort en sal hulle nooit laat verlore gaan nie.
Moet nooit toelaat die die samelewing jounou in ‘n kas toesluit en wegsteek asof daar iets met jou verkeerd is nie. Die skuld mag nooit op jou afgeskuif word nie. Dit is nie jou skuld nie, al is omstandighede hoe donker en verkeerd. Die skuldgevoel kan Jesus baie duidelik van jou wegneem. Moet nie daarmee saamleef nie.
Verder moet jydie ander wat ook geraak is deur hierdie dood, openlik gaan help. Mense steek so goed weg, want die samelewing het nie plek of tyd vir swakhede nie. So maak hulle eensame mense van elkeen wat nie inpas in hulle program of idee nie. Maak nou oop en steek ‘n hand uit na die ander wat gely het deur hierdie dood. Gaan daarna na ander wat die Here op jou pad bring en lewer daar hulp. So kry die lewe weer sin en kleur deur al die trane.
Die Here Jesus sal jou troos deur sy Gees. Rus in Hom.